Ons is trots op pragtige prestasies in 2021!
Uitstekende prestasies moet gevier word! Op Pomario se jaarlikse prysuitdelings het ons onlangs erkenning gegee aan kinders wat deur die jaar hard gewerk en mooi presteer het. Die Grondslagfase (Gr 1 tot 3) se prysuitdeling is apart van die kinders in Gr 4 – 12 gehou en ons is sommer baie trots op elke presteerder!
Die splinternuwe trofees wat ons by dié geleentheid in gebruik geneem het, behoort ons nog jare lank te help om uitstekende prestasies te vier. Ons skool is volgende jaar 10 jaar oud en ons het groot planne vir die toekoms. Dit sal lekker wees as oud-skoliere terugkom en steeds hulle name op die trofees sien pryk.
‘n Nuutjie by vanjaar se prysuitdeling was die trofee vir die Mini-Ambassadeur (gedeel deur André Mouton en Mari Burger, Gr. 3) en die Ambassadeurstrofee (Liché Geldenhuys, Gr 11). Ons het ook vanjaar die heel eerste merietekleure in die skool se geskiedenis toegeken aan Inge Brand (Gr 5, Gimnastiek), Anli Oberholzer (Gr 6, Akademie) en Esmari Olivier (Gr 7, Akademie).
Die Interhuis Spantrofee is vanjaar deur die wit span gewen, terwyl die entoesiastiese rooi span met die Spangeestrofee weggestap het. Verskeie leerders het by dié geleenthede opgetree om ekstra luister aan ons prysuitdelings te verleen. Baie dankie aan Marguerite Mouton (Gr 1, Viool), Fleur Richter (Gr 5, Afrikaans Voordrag), Inge Brand (Gr 5, Gimnastiek) en ons nuutgestigte koor wat die prysuitdelings met hulle optredes verryk het.
Geniet gerus die fotobeeld van die verrigtinge.
留言