top of page

Ons sorg vir liggaam, siel en gees

IMG_1329.jpg

Swem

Ons is trots op ons sprankelende 25 meter swembad waar ons die swemvaardighede van ons leerders ontwikkel. Die jaarlikse interhuis-swemkompetisie is 'n hoogtepunt op ons kalender en ons neem aan verskillende swemgalas deel. Ons swemmers floreer onder die bekwame afrigting van mev Retief, mev Mileham en me De Jongh. Mevrou Teresa Smit en die Aquafast Swemskool bied privaat swemlesse in ons swembad aan.

Atletiek

Ons glo dat atletiek die grondslag bied vir prestasie in verskillende sportsoorte, daarom moedig ons massa-deelname aan. Deur atletiek word daar vir elke student ‘n geleentheid geskep om te presteer, ongeag vaardigheidsvlak of liggaamsbou. Ons het 'n gesonde kompetisie tussen die verskillende huise en ons neem gereeld deel aan kompetisies teen ander skole in ons omgewing.

IMG_0957.jpg

Krieket

Sê  net "krieket", en baie entoesiastiese studente staan tou om deel van ons span te wees. Ons bied mini-krieket aan vir leerders in die grondslagfase en neem gereeld deel aan kompetisies teen ander skole. Met ons nuwe sportfasiliteite wat ontwikkel word, sien ons uit na ons eie krieketnette en -veld!

IMG_2493.jpg
IMG_2830.jpg

Netbal

As 'n spansport vir meisies is netbal beslis een van die gewildste aktiwiteite in Suid-Afrika! Met gefokusde afrigting berei ons ons studente voor om aan die sportdae en kompetisies in die Wes-Kaap deel te neem. Netbal bied 'n ideale platform vir studente om individueel en as 'n span te presteer. Met ons splinternuwe netbalbane, sien ons daarna uit om netbal in Pomario na groot hoogtes te neem!

Rugby

Daar is geen beter manier vir seuns om van hul energie ontslae te raak as om rugby te speel nie! Met ons nuwe sportfasiliteite neem rugby sy regmatige plek in as een van die gewildste sportsoorte in die skool. Die jonges neem deel aan die gewilde "bulletjie-rugby" kompetisies, terwyl ons in die nabye toekoms 'n volledige rugbyspan in die vooruitsig stel. Ons getalle groei vinnig en ons sal die droom binnekort kan verwesenlik!

Hokkie

Hokkie is 'n baie gewilde aktiwiteit vir seuns en meisies in ons skool en studente neem entoesiasties deel! Dit verbeter spoed, koördinasie, liggaamshouding en balvaardighede. Met ons groep talentvolle spelers sien ons uit na groot prestasies op die hokkieveld!

IMG_1669.jpg
IMG_1042_edited.png

Tweekamp en landloop

Ons is trots op ons tweekampatlete wat baie hard oefen en goed presteer in die Boland-streek. Onder die bekwame afrigting van mnr. Jakobus en mev. Donneigh Retief maak hierdie jong sterre hul merk in elke kompetisie. Geen wonder dat die huidige rekordhouer in o.9 tweekamp 'n student by Pomario is nie! Hierdie atlete blink ook uit in landloop. Dié aktiwiteite bevorder gesonde kompetisie en dit bou liggaamlike en geestelike taaiheid wat onontbeerlik is in 'n kompeterende samelewing. 

L.O.S.T

Love Outdoors, Share Trails

Soos die naam aandui, is die Pomario L.O.S.T. -klub 'n verlengstuk van ons liefde vir die buitelewe. Hierdie klub is in 2020 gestig en die entoesiastiese lede het reeds deelgeneem aan 'n indrukwekkende verskeidenheid aktiwiteite wat staptogte in die Cederberge, rotsklim en gesinsnaweke insluit.  Hoogtepunte sluit in 'n staptog na die bekende Disa Pools en Maltese Cross, asook 'n oorslaap in die Sneeuberg-hut op 'n tweedaagse staptog van Sneeuberg en Duiwelsgatkloof.  Ons sien uit na nog vele aktiwiteite rondom Citrusdal en in die Kaapse Skiereiland.

IMG_6944.jpeg

Dink en doen... 

IMG_1900.jpg

Robotika en kodering

Pomario is al 'n paar jaar op die voorpunt van tegnologie met koderingsklasse vir studente aan as 'n buitemuurse aktiwiteit. In 2021 het ons die stap geneem om ons koderingsklasse in 'n robotika-program te omskep. Met twee spanne van nege studente elk, is ons gereed om aan die First Lego League-kompetisie deel te neem. Dit is maar een manier waarop ons ons leerders voorberei om hul plek in die moderne ekonomie in te neem.

Skaak

Ons skaakspan is bekend as 'n krag waarmee rekening gehou moet word in die verskillende kompetisies in ons omgewing. Skaak bied die geleentheid vir studente om strategiese denke en probleemoplossing te ontwikkel. Die voordele van skaak is welbekend en Pomario bied aan individue die platform om hul denkvermoë te ontwikkel en hul mededingers op die skaakbord te verower. 

IMG_2008.jpg
IMG_0458.jpg

Redenaars

Ons glo dat die vermoë om 'n standpunt in te neem en jou mening met vertroue oor te dra, 'n belangrike vaardigheid is wat almal moet bemeester. Ons het 'n jong, maar baie talentvolle groep sprekers wat aan verskillende redenaarskompetisies deelneem in Afrikaans en Engels. Interne redenaarskompetisies sorg vir groot opwinding en gesonde mededinging.

Koor

Die klank van pragtige stemme wat goed harmoniseer, is een van die kenmerke van 'n skool met gelukkige kinders. Die Pomario a capella-koor is in 2021 gestig en hulle het vinnig 'n hegte groep geword wat elke geleentheid ophelder as hulle tydens skoolgeleenthede en in die gemeenskap optree. Ons is baie trots op hierdie ambassadeurs met hul engelstemme! Binnekort is hulle gereed om ook aan kompetisies deel te neem.

IMG_2240.jpg
IMG_0857.jpg

Kuns

Die ontwikkeling van die artistieke vermoëns van ons studente lê ons na aan die hart. In die kunsklas maak mevrou Blankendaal die kunste lewendig met verskillende tegnieke en 'n innoverende benadering. Na ure word die artistieke vaardighede van individuele leerders geslyp deur mev Jodi Crous, 'n bekende kunstenaar in Citrusdal. Artistieke uitdrukking verryk 'n gemeenskap en ons is trots op ons jong kunstenaars wat op 'n unieke manier bydra tot die wêreld waarin ons leef.

Dramatiese kunste

In die dramaklas is leer groot pret! Dramatiese kuns gaan daaroor om jouself uit te druk, jou vrese te oorkom en gemaklik in jou eie vel te wees terwyl jy 'n boodskap aan jou gehoor oordra. Ons studente tree op by skoolgeleenthede en eisteddfods. Binnekort sal ons ook gereed wees vir die groter verhoog! Ons droom oor ons eie opelugteater. Sou dit nie 'n wonderlike aanwins vir die gemeenskap wees nie ?!

IMG_2362.jpg
bottom of page